DIE STELLALANDER TOSCA (soos geskryf deur Dawid Viviers)

Daar heers groot ongelukkigheid onder leeu boere in die Vryburg en Tosca omgewing. Die boere het, volgens ‘n betroubare bron, glo reeds regsadvies ingewin by ‘n prokureur in Vryburg oor die moontlikheid om regsstappe te neem teen ‘n groep oud leerders van Grey kollege in Bloemfontein. Volgens die bron, ene Sarie Talkalot, wil die boere die groep manne dagvaar vir skadevergoeding nadat die prys van geblikte leeus oornag geval het na aanleiding van ‘n berig wat in Die Volksblad verskyn het onder die opskrif “Dronk leeu laat Bfn-manne bewe, duik en hol.”

Mej Talkalot, ‘n tikster in die prokureur se kantoor, het alles aan ons ondersoekende verslaggewer, Henry Vrabaie, uitgeblaker nadat hy haar, soos hy dit stel, “n bietjie gedruk het vir inligting”. Mej Talkalot , wat nou nie net swanger is nie, maar ook sommer in groot moeilikheid by haar werkgewer is, sê dat sy gewoonlik glad nie baie praat nie en eintlik enige geheim goed kan bewaar. Sy het egter voor Mnr Vrabaie se sjarme geswig nadat hy haar Woensdag net na 17h00 opgelaai het en vir ‘n romantiese ete na die Steers op Vryburg geneem het. Sy sê dat die kombinasie van Mnr Vrabaie se elegansie, twee Savanna Lites en ‘n Wacky Wednesday Burger met ekstra kaas, al haar weerstand verwoes het. Sy sê hulle was skaars in haar woonstel toe sy Mnr Vrabaie na haar slaap kamer geneem het sodat hy haar kon ondervra.

Mej Talkalot het laat blyk dat die boere, net nadat die berig gepubliseer is, begin oproepe ontvang het van ontstoke Amerikaanse jagters wat jagtogte wou kanselleer. Die jagters se grootste klagte is dat hulle “proper, tough lions” wou jag en nie “wimpy, lazy kittens that cannot even catch three running middle aged men” nie. Die jagters is almal lede van die Noord-Amerikaanse vereniging Kaged Animal Killers, oftewel KAK.

Soos dit enige goeie verslaggewer betaam het Mnr Vrabaie nie die saak daar gelaat nie. Hy voel dat geen berig volledig is indien beide partye se kant nie gestel is nie. Mnr Vrabaie het begin navrae doen en na vele oproepe by die groep se regsverteenwoordigers, Mnre Das van Deventer en Dudley Honey uitgekom. Mnr van Deventer is woonagtig in Bloemfontein en ‘n kundige in sportreg terwyl Mnr Honey sy tande in algemene regswerk geslyp het in die hond-byt-hond arena van Johannesburg. Hierdie twee is voorwaar nie twee liggewigte in die regswêreld nie en is, anders as die leeus van Tosca, nie katjies wat jy sonder handskoene moet aanpak nie. Volgens ons verslaggewer is Mnr Honey die stil, sterk tipe en ‘n man van min woorde. Nadat die storie aan hom vertel is het hy glo as volg gereageer:
“This is nonsense. The animals of that area had their sights set on us right from the start. On our very first night in the Kalahari I was attacked by a vicious scorpion while walking bare foot to the bathroom. As if this wasn’t enough, we had to take out two donkeys on our first day on the farm. Although the donkeys tried their best to look harmless, we could see by the way their heads were tilted, that they were planning to attack Vleis Visagie if he was to fall asleep next to the fire again that night. We had no choice but to eliminate this danger. Later the very same day we were challenged by the lion that lost the duathlon against Grant Paola. When we pulled into the lion enclosure to dispose of the carcasses of the two eliminated asses, the lion started to show off his athleticism by jumping over a ten foot fence, charging at the members of our group and jumping back over the fence into his cage. If ever I saw a challenge to a group of ex-excellent sportsmen, then this blatant display of arrogance was it. You can tell the farmers that any action that they might institute will be opposed and when we are finished with them they will have to borrow krieketballe, snoekerballe and tennisballe if they or their lions want to do the leeuloop ever again.” Met hierdie ysingwekkende waarskuwing aan die boere en hulle leeus het meneer Honey toe die foon minagtend in ons man se oor neer gegooi.
Die oproep aan Mnr van Deventer het bietjie rustiger verloop en hy het bietjie meer lig op die gebeure gewerp. Mnr van Deventer bevestig dat die skerpioen aanval, die sameswerende donkies en die hiper windgat leeu die Grey manne se sluimerende mededingendheid laat ontwaak het. Daar is reeds die eerste aand om die vuur al deur die groep begin beplan hoe om Grey se naam as ‘n top skool te verdedig teen hierdie uitdaging wat die Kalahari diere in hulle gesigte gegooi het. Hy voer aan dat die beplanning dalk vroeër afgehandel sou wees as sommige van die lede nie so vroeg oorval en plat getrek is deur die gevreesde FNB (First Night Burnout) virus nie. Hierdie onvoltooide beplanning was dan ook die rede hoekom Vleis so ‘n onrustige nag gehad het. Hy het die hele nag rond gerol en homself in ‘n verskriklike hoofpyn in gedink om met die regte plan vorendag te kom. Meneer Cheetah Lubbe het dan ook die hele nag brul geluide in sy slaap gemaak om die regte atmosfeer vir Mnr Visagie se denkproses aan te skep. As jy ‘n nag na Cheetah se gesnork moet luister sal jy enige ding wat brul wil vermorsel. Na twee Disprins vir Vleis en ‘n beker koffie vir elke lid (wat goedgunstiglik deur Mnre Honey en Commons vir ons planmakers aanmekaar geslaan is), is die volgende dag aangepak en daar is regdeur gedrink, skuus, gedink en beplan.

Om ‘n lang storie korter te maak kan die plan as volg opgesom word. Die groep is vrot van uitstekende sportlui. Dit is eintlik net Mnre van Deventer en Viviers wat nie op die sportveld of in die swembad uitgeblink het nie, maar hulle het darem die voorreg gehad om onder Majoor Oosthuizen se hande in die agtste rugbyspan, oftewel die Crocodiles, deur te loop. Die plan was om die windgat leeu se uitdaging te aanvaar en hom te wys dat selfs ‘n man wat sover terug as 1984 in Grey was, hom in die sogenaamde Kalahari twee-kamp kan klop. Hierdie sportsoort is nie baie bekend nie, maar dit word selfs in adrenalien verslaafde kringe as gevaarlik beskou. ‘n Mens kan sê dis die Russiese rolet van atletiek en swem. Die hele byeenkoms word in minder as vyf sekondes, wat vir die deelnemers voel soos ‘n ewigheid, afgehandel. Daar is twee items wat, sonder enige pouse, en met een aaneenlopende gil afgehandel word.
Die twee items kan as volg beskryf word:
1.    Sprint vir vyf treë sonder om opgevreet te word of in jou broek te skyt.
2.    Swem bo-op die water deur ‘n swembad in drie hale sonder om opgevreet te word of in jou broek te skyt.

Daar is besluit om Mnr Paola as atleet in te skryf met Mnr Jan Moolman as spanbestuurder en Mnr Cheetah Lubbe as pacer. Mnr Paola het op skool nie atletiek gedoen nie, maar hy was ‘n uitstekende hokkie speler en die groep het die voorreg gehad om sy vyf treë sprint een aand in 1984 tydens karre skud te beleef toe hy deur onderwys studente van Huis de Bruin gejaag is. Meneer Moolman is as spanbestuurder gekies omdat sy beginsels en integriteit, anders as die ander lede van die groep, nie in twyfel getrek kon word nie. Almal was dit eens dat hy geen ongeruimdhede van sy eie atleet of die opposisie sou duld nie. Hy is ook ‘n geakkrediteerde professionele jagter wat besluite oor leeus in ‘n breuk deel van ‘n sekonde sou kon neem as dinge nie na wense op die baan sou verloop nie. Daar is op Mnr Lubbe as pacer besluit bloot omdat hy op skool die vinnigste van die groep was en daar geglo is dat hy daardie spoed nog sou kon handhaaf totdat hy Mnr Paola te water laat in die swembad.

Die hele plan het tot uitvoer gekom toe die groep op die derde dag die leeu langs die swembad sien uitspan het. Daar is oog kontak met die dier gemaak en die gort was gaar. Die atleet, spanbestuurder en pacer het soos een man van die bakkie afgeklim en vuilbaard gekonfronteer. Alles was in ‘n paar sekondes oor. Soos almal nou reeds weet het Mnr Paola het ‘n totale gek van die leeu gemaak. Daar is selfs sprake dat die leeu onder invloed van die verbode middel M99 deelgeneem het, maar die groep het besluit dat daar nie aangedring sal word op n urine monster nie.

Danksy ons verslaggewer se deurtastende ondersoek, Mej Talkalot se swak weerstand en Steers se Wacky Wednesday kan almal nou sien dat, anders as wat aanvanklik berig is, niemand uit vrees vir die leeu gevlug het nie. Dit was eintlik maar net ‘n baie goed beplande sport byeenkoms wat weereens deur die atlete van Grey oorheers is.

‘n Telefoniese onderhoud met die man wat na bewering in ‘n yskas wou wegkruip het ook aan die lig gebring dat hy maar net gaan soek het na Powerade vir Mnr Paola en ys vir Mnr Lubbe se effens seer hamstring en Mnr Moolman se oog wat onverklaarbaar deur ‘n deur raak gestamp is.

Die media kan soms die feite van ‘n storie verdraai om sensasie te soek, maar daar is gelukkig nog manne soos ons Mnr Vrabaie, wat daarin glo om die ware feite van ‘n storie deur te gee.

Comments