Gert Marais - die goeie vriend

Berig uit die Volksblad: "Gert Marais wat vroeër die week in ’n vliegongeluk in Amerika dood is. Die gewese haker van die Vrystaat was, soos sy groot vriend en gewese stut van die Vrystaat, Piet Bester, die week gesê het, ’n man uit een stuk. ’n Waaghals, ’n spanmens en ’n vriend.
Snaaks genoeg, is hy oorlede toe hy in Amerika besig was om met sy vliegtuig water aan te ry om ’n brand te probeer blus.
Bester vertel dat Marais drie noue ontkomings met sy vliegtuig gehad het.
Een keer was dit juis toe hy ’n brand probeer blus het.
Hy het toe gesê dat hy nooit weer met sy vliegtuig sal probeer om ’n brand te blus nie . . . en nou het dit sy lewe geëis.
Bester vertel dat Marais ’n regte platjie was.
’n Slag het die twee Lesotho besoek en die aand by die ou Victoria Hotel ’n drankie gedrink.
Een van Lesotho se vroue van die nag het meer as die gewone belangstelling in die twee getoon waar hulle op ’n bankie in die onthaalkamer gesit het.
Sy het aanvanklik net gestaar, maar al hoe meer moed gekry. Sy het opgestaan en agter hulle verbygeloop.
So met die verbyloopslag het sy met haar vingers in Piet se hare gespeel.
Hy sê hy het nie geweet wat om te doen nie. Jy is in ’n vreemde land en die mense kan dalk moeilik raak as jy die vrou ontmoedig of beledig.
Dit was toe dat Gert tot sy redding kom. Hy het na Piet gekyk en vir hom gesê: “Gee my ’n klapsoen.”
Piet vertel: “Ek het hom eers verbaas aangekyk, maar hom toe ’n nat soen op die mond gegee. Die vrou het ons net een keer aangekyk en die pad gevat . . .”

Comments